Storie deur Marie Beytell miracleproductions.co.za
Hier is ‘n storie EN ‘n gediggie wat ek vandag opdra aan my PA PIET, wie 45 jaar in JCI se goudmyne gewerk het, en swaarstroom elektrisiteit gedurende sy leeftyd bemeester het.
Ek onthou al die nagskofte wat hy moes werk, ons angs en naelkou as hy moes gaan help wanneer daar rotsstortings was en ondergrondse vure uitgebreek het…
Hoe hy doodmoeg, met stof en roet besmeer, vroegoggende teruggekom het… en sy fles waarin daar nog altyd so bietjie lou soet tee was, vir my gegee het om te drink…
Ek het dan opgekrul in sy regte egte skaapwol jas, wat hy oor my kom gooi het voor hyself in die bed neergeval het om te RUS.
Pa Piet kon ALLES regmaak. Ons eetkamertafel was byna altyd TOE onder toets – apparaat, ossiloskope, tange, skroewedraaiers, stringe draadjies, sweisgoeters en “circuit boards”.
My Ma het net altyd gevra dat die tafel SONDAE skoon moes wees, want Sondagmiddag – etes was HEILIG in ons huis.
Die klank van daardie elektriese mes wat skywe skaapboud – vleis gekerf het vir ons ses honger kinders voor ete, sal ek nooit ooit vergeet nie.
My Pa het gedurende sy lewe ‘n hele paar menselewens gered, as gevolg van sy pligsbesef en uitstekende paramediese opleiding.
Ons het NOOIT OOIT verby enige ongelukstoneel gery, sonder dat hy gestop het, die beseerdes gestabiliseer het, en dan onmiddellik na die naaste hospitaal of kliniek gery, om ‘n ambulans te ontbied.
‘n Beseerde man het, ná ‘n ernstige motorfiets-ongeluk, wie se lewe gered is deur my Pa, sommer daarna ‘n eed geneem dat hy NOOIT weer sal motorfiets-ry nie, en het daardie einste blink Harley vir my Pa gegee as geskenk om dankie te sê…
Ondergronds het hy eenkeer met bomenslike krag swaar staalstawe eerder laat val en rus op sy eie bene, om sodoende mense wat onder lê, ‘n kans te gee om weg te rol, en het só hulle lewens gered… Hy het vir baie lank daarna gesukkel met sy bene se herstel.
Hy het vir ons ook van kleins af sy beroemde VIER kilometer per uur – reël geleer : Moenie te vinnig iets kompleks of gevaarliks aanpak, as ek nog onseker is, dit my eerste keer is, OF as ek dit nie gereeld genoeg doen om automatiese reflekse deur herhaling ontwikkel het nie.
Ek het al baie skades en skandes beleef as ek DIE reël verontagsaam het… Die beste toepassing hiervan is definitief parallel parkering… om verstaanbare redes!
Ons was ontsaglik bederf met sy raakvat vermoëns en reg-of-weg – werksetiek wat spruit uit baie moeilike tienerjare…
Hy moes al skool verlaat het in Standard 8, om stoksiel- alleen vir sy eie Pa te sorg… ‘n diabeet in ‘n rystoel. Om by die myn uit te kom, moes hy ontsaglik vêr fietsry om sy elektrisiën – ambag te volg. Sy Ma het om duistere redes, vir hom en sy Pa verlaat en hulle moes klaarkom sonder haar sorg of inkomste.
My Pa, toe so 14/15 jaar oud, moes van deur tot deur klop vir ‘n kamer waarin hy en sy Pa kon woon. Uiteindelik het ‘n tannie met ‘n goeie hart vir hom en sy Pa ‘n agterkamer gegee om in te bly, op voorwaarde dat hy elke Sondag kerktoe gaan, wat hy getrou gedoen het.
Goeie nuus is dat hy uiteindelik soos ‘n KONING behandel is in die weermag, met sy eie private woonkwartiere, want teen daardie tyd het hy álles betreffende elektrisiteit bemeester!
Hy het GOU daarvoor beroemd geword, en moes al die kantore en privaat wonings van die weermag – elite se elektriese probleme oplos, asook natuurlik veg-vliegtuie se bedrading. En DIT terwyl al die ander jong laaities wat dieselfde ouderdom was as hy, verskreeu word deur al die mal samjore en crazy korporale…
‘n Ontploffing ondergrond het sy regter oordrom permanent beskadig… maar ek kon darem nog één laaste keer DIE DONKER MAN van Laurika Rauch/ Ingrid Jonker vir hom reg teen sy linker-oor in intensiewe sorg sing…
Hy het sy oë uiteindelik oopgemaak ná die liedjie, en met sy liefdevolle glimlag en skitterblou oë vir my gesê :
DIT… was MOOI ! My Pa was LIEF vir musiek, dans, LAG, stories en LEWE!!.. ASOOK natuurlik ” lime milkshakes”, sy heel geliefkooste drankie!
My sus Janine het die briljante idee gehad dat ons toe NA die seremonie, onder bestuur van Karien en my Mira vir ALMAL teenwoordig, vars lemmetjie – gegeurde melkskommels bedien het! *DANKIE Fred!!😊
Dit was SO feestelik en het die hartseer-geleentheid sommer heeltemal onderstebo gedraai met Oom Piet se “lime milkshake – MAGIC!”
Ek sê vandag DANKIE vir die voorreg om as dogter groot te word onder die sorg van só ‘n regte egte vlees en bloed – SUPERHERO!!!
… Iemand wat my Pa baie goed geken het uit die mynbedryf, het vir my oudste broer ‘n stukkie geskryf ter ere van my Pa. Hy wil anomiem bly.
Ek het so bietjie hier en daar “gebeytell” aan sy woorde, en dit het gelei tot HIERDIE gedig, wat ek op Vrydag 7 Junie voorgelees het tydens die gedenk-seremonie ter ere van Pa Piet:
ODE aan Piet Beytell.
Ek ken ‘n MAN
uit klip gebeitel
diep gemyn
uit die hardste rots
… en in die nate van die aarde
daar in die diepste
kloof…
vleg goue are
dwarsdeur die jare
vanuit ons aardekors…
tot by ‘n skugter diamant
wat skitterend
die eerste strale
van die bosveldson…
weerkaats op
vroegoggend
doudruppels en
‘n spierwit
vlakvarktand
… gebeitel
staan hy daar :
die standbeeld van
een MAN
… gebeytell
staan hy daar :
‘n MAN
wat werklik
KAN
Views: 10

2 replies on “Die Storie van Pa Piet: Vadersdag 2019”
Die pragtige
woorde ,gedagtes , stories , beitel my hart en kleur dit vol met liefdevolle herrineringe. Verlang na my pa en ma .
DANKIE, DANKIE AD INFINITUM
dat ek hiérdie nou-net weer met volle aandag kon lees …
Paaapaaa!
Ek verlaaaaaang
na jou!
🩵